Weekly Inspiration 2013-02-24 Moenie geld najaag nie In die ou antieke tyd het mense na heilige plekke gegaan om te gaan offer. Hierdie heilige plekke het vir eeue bestaan en is dikwels deur verskillende godsdienste gebruik. Baie mense het na hierdie ver plekke gegaan waar God aanbid is met die idee dat hulle, as hulle gelukkig is, dalk ‘n openbarng van God sal kry. Hulle het ‘n paar nagte daar gaan slaap en dan gehoop op ‘n spesiale boodskap in ‘n droom. Salomo het nadat hy koning geword het dieselfde gedoen, hy het gaan offer by ‘n plek met die naam Gibeon en ‘n nag of wat daar gaan oorbly. 1 Konings 3 : 4 – 9. Salomo was gelukkig want hy het ‘n droom gehad waar hy ‘n boodskap van God ontvang het. By hierdie altaar gee God vir hom waardevolle raad oor hoe dinge eintlik werk in Sy Koninkryk. Aan die Salomo in die droom gee God die geleentheid om enige iets van hom te vra. Die Salomo in die droom vra nie dadelik nie maar sê eers dankie vir God se guns teenoor sy vader en dan uiteindelik ook God se guns teenoor homself. Dan stel hy sy saak aan God en vertel van sy probleem. Hy voel hom nie heeltemal opgewasse om hierdie groot volk te regeer nie. Hy vra ‘n luisterende hart, dan vra hy ook die vermoeë om te onderskei tussen goeie getuienis en slegte getuienis. Hy wil instaat wees om te kan weet of iemand lieg en of iemand die waarheid praat. Hierdie gawes het hy nodig om ‘n goeie koning te wees. Al hierdie dinge vra die Salomo in die droom sodat hy sy werk goed kan doen en om sy medemens te kan help. Hy maak sy eie behoeftes ondergeskik aan die behoeftes van sy naaste in hierdie geval sy onderdane. Die Salomo in die droom wil goed wees in wat hy doen maar hy will ook goed wees vir die mense. Dit gaan nie vir hom oor die persoonlike voordeel wat hy uit sy koninskap kan kry nie maar wat hy positief met sy koninskap kan doen. Hy droom nie oor mag of geld of ‘n lang lewe nie hy droom oor hoe hy ander kan help met sy koningskap. Hy het ‘n passie en ‘n verlange om uitnemend te wees in sy werk. Om ‘n goeie Koning te wees beteken uiteindelik die belang van die volk word eerste gestel. Die welsyn van die volk is die belangrikste begeerte in sy hart, dit is waaroor hy droom. En die wonderlike is God hou ook van die Salomo in die droom se passie en sy ingesteldheid. God is mal hieroor, Hy glimlag van oor tot oor!!
Om ‘n goeie koning te wees dit is wat hy gevra het en God gee vir hom dit wat hy begeer, hy kry al daardie vermoeëns wat nodig is om ‘n goeie koning te wees. Die Salomo in die droom word dus toegerus met al die kennis, al die insig, al die wysheid al die fynere vaardighede om ‘n goeie koning te wees. Die Here gee met graagte vir jou die gawes om ‘n positiewe bydrae te maak in die omgewing waarin jy leef en beweeg. Hy maak jou vaardig om jou werk goed te doen. Daar is baie plekke in die Bybel waar hy mense gehelp het om goed te wees in hulle werk. Dink byvoorbeeld aan die manne wat die tempel gebou het as ‘n goeie voorbeeld Hy het hulle gevul met die Heilige Gees sodat hulle vaardig kan wees met die bou van die tempel. Die Here help jou graag en gee jou die vermoeë om jou plek vol te staan as jy dit begeer. En dan volg daar ‘n verrassing. God beloof om hom te gee wat hy nie gevra het nie. God gee hom dit waaroor hy nie begaan is nie, dit wat nie vir hom belangrik was nie, (en tog het God geweet dat hy dit ook moet hê), dit het hy ook gekry. God beloof om hom daarby rykdom en aansien te gee. Die geld waaroor jy nie begaan is nie dit gee hy vir jou as ‘n geskenk by alles. In hierdie droom hoor en sien die lewendige Salomo dat geld net genade is. Geld is ‘n geskenk van God en dit is die kort en lank van alles. Rykdom is nie die resultaat van harde werk of die kulminasie van goeie planne of intelligensie nie. In Prediker 9 : 11 staan dit baie duidelik dat nie altyd die slim mense is wat ryk word nie. Geld is ‘n geskenk van God. Geld kom van God af, hy gee dit verniet soos hy in sy groot wysheid beplan het. Spreuke 10 : 22 sê duidelik: “Dit is die seën van die Here wat rykdom bring jou geswoeg laat dit nie meer word nie”
Die mens kan net slegte dinge voortbring. Geen besigheidsplan wat deur ‘n mens opgestel word kan jou ryk maak nie want daar kan niks goeds uit die mens kom nie. Geen besluit wat jy neem of positiewe denke, linker regter brein gimnastiek kan jou ryk maak nie nie. Geen idee werk of beroep kan jou ryk maak nie nie. Jy kan al die boeke lees jy kan al die gewone paaie na rykdom probeer, aandele, forex, eiendom, aankoop clubs, piramiede skemas, lotto; jy sal nie rykword nie. Alles wat die mens uitdink is verganklik en van verbygaande aard. Wat vandag goed en winsgewind is is môre dalk niks werd nie. Soos Jakobus dit stel: “Moenie julleself mislei nie my liewe broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.” Jakobus 1 : 16 – 17.
Net God alleen is goed, alle goeie dinge kom van God en net hy in sy groot genade en in sy groot wysheid gee goeie dinge aan die mens. God alleen is goed, geen skepsel is goed nie, geen instelling op aarde is goed nie Jy kan nie geld najaag nie want geld is ‘n geskenk. Jy kan nie mag najaag nie want mag is ‘n toegif van God. Net om dit vir ons te bewys gee God aan wie hy wil en soos Hy wil. Geld is ‘n present van God, dit kan nooit opsigself ‘n doel wees nie. As jy weer iemand sien wat baie ryk is en jy dink maar daardie persoon verdien dit nie onthou dan, dit is ‘n gawe van God dit is al. Dit help dus nie jy sloof jou af vir geld en verniel jou gesondheid bekommer jou elke dag oor hoe jy die punte bymekaar gaan kry nie. Jy kan niks verander deur bekommerd te wees oor geld nie, jy gaan jouself net ‘n maagseer op die hals haal en in depressie en angs verval, maar jy gaan nie ryk word nie. Moenie dat geld jou slapelose nagte gee nie. Hoe meer jy top oor jou geldsake hoe minder gaan jy geld hê. Geld is soos om ‘n mooi skoenlapper te vang, hoe meer jy die skoenlapper probeer vang hoe meer vlieg hy vir jou weg. As jy hom uiteindelik gevang kry druk jy hom dood. Maar as jy stil gaan sit kom dit dalk terug na jou toe en kom sit dalk straks op jou skouer. Daar is ‘n groot kloof tussen ons en rykdom. Rykdom is geheel en al in die hande van God en Hy deel dit uit soos Hy in Sy heilige wysheid besluit. Jy kan nie die kloof orsteek nie. As jy die kloof wel probeer oorsteek is dit is baie gevaarlik; probeer geld najaag en kyk wat gebeur. Die Bybel gee vir ons ‘n belofte daaroor. As jy geld najaag val jy in verwoesting en chaos. Dit is wat vir jou voorlê, net chaos en pyn. Jy gaan baie meer verloor as wat jy gaan wen. Jy gaan baie skade veroorsaak mense seermaak en jy gaan self ‘n groot prys betaal. Om geld te jaag is dus nie ‘n lekker tydverdryf nie, dit het dodelike konsekwensies. Die Here verbied dit, om geld na te jaag om die heeltyd te droom of te “worry” oor geld is ‘n groot oortreding en jy maak die Here hartseer as jy so is. Jy bedroef God as jy heeldag top oor geld want jy gee Hom die boodskap dat jy Hom nie vertrou nie. Alles behoort aan God hy kan vir julle brood uit hierdie klippe gee as Hy wil. Hy wil dat ons op Hom moet vertrou. As jy heeldag droom en top oor geld se jy eintlik vir God dat jy nie tevrede is met wat jy het nie. En as jy nie tevrede is met wat jy het nie is jy ondankbaar. Hierdie gedeelte uit 1 Timoteus 6 : 9 stel dit baie duidelik: “Maar die wat wil ryk word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word.” As die Here dit nie vir jou gee nie sal jy dit nie kry nie. En die wat dit probeer kry op hulle eie krag sal dit verloor. Jy gaan jouself net verskriklik seermaak en die kos uit jou kinders se monde haal. Geld is een van daai goed wat jou kry. Geld vind jou, jy vind nie geld nie. Geld kom na jou toe, jy kan nie na geld toe gaan nie. Partykeer sit ons net nie stil genoeg nie, dan kan geld ons nie kry nie. Hier is Salomo se boodskap: Dit is dus nutteloos en dom om geld te jaag, jy maak jouself net oud voor jou tyd. Dit is dus baie beter om te kalmeer, jou werk te doen soos dit van jou verwag word, jou plek vol te staan in die lewe en die res laat jy aan Jesus oor. Die enigste ware passie en droom wat jy as Christen kan hê is om ‘n positiewe bydrae te maak en goed te wees vir diegene wat in jou sorg gelaat is of getrou te wees in die take wat Hy aan jou toevertrou het. Jesus het toe hy op aarde was gesê geld, roem en mag is die laaste goed waaroor ons, ons hoef te bekommer en waarna ons moet streef. Hanteer jy net die klein goedjies wat jy moet doen en die res sal hy vir jou gee soos jy dit benodig. “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir jou gegee word.” Matt 6 : 33. Om gemiddeld te wees is eintlik baie beter as enigiets anders. Om net genoeg te hê om van te lewe is eintlik wonderlik! God is vir ons baie meer lief as wat ons ooit kan verstaan. Hy sal jou nooit alleen los nie, jy kan dalk baie swaar kry en werklik deur die dal van doodskaduwee gaan maar honger ly, sal jy nie. Daaroor is daar meer beloftes as wat jy kan opnoem. “Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek ‘n regverdie verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie.” Psalm 37 : 25.
As Christene sal ons nooit deur God versaak word nie en ons kinders sal nooit hoef te bedel vir kos nie. Ons sal die meeste van die tyd dalk nooit stink ryk wes nie maar ons sal goed versorg wees. Daarom sal ons nie geld najaag of heeldag daaroor droom nie. Ons sal nooit toelaat dat geld ons lewe oorneem nie. Ons sal nooit toelaat dat geld ons siek maak nie. Die Here weet wat ons nodig het voor ons dit van hom vra. Ons enigste droom in die lewe sal wees soos die Salomo in die droom gesê het, Here maak my net ‘n goeie koning, dis al. Ek wil graag vir ander goed wees, help my daarmee. Bid net om ‘n goeie pa, ma of werker te wees, dis al. Vir die res, God sal gee soos hy besluit en volgens sy heilige wysheid! Hy weet wat goeie Pa’s, Ma’s, Oupa’s en Ouma’s nodig het. Hy sal dit gee, maar hy sal ook gee wat ons nie oor droom nie en nie najaag nie, geld, genoeg om te lewe want dit bly ‘n geskenk. |
Back | Back to top |